Afrikaans! Opvoedkundig! Uniek!


Woordbou (5-7 jaar)

Nou kan jy jou kleinding help om sinne te bou!

Laai die woorde vir die woordbou gratis af en knip uit op die stippellyne.

Die doel van hierdie woordbou oefening is om jou kind te help met woordherkenning. Deur telke male dieselfde sin te gebruik, leer jou kind die sin ken. Jy sal sien dat hy/sy later sal kan onderskei tussen die drie sinne wat julle gebruik. Verder is dit natuurlik ook groot pret vir die kleingoed aangesien hulle voel dat hulle kan lees, en dis is inderdaad ook die eerste stap!

  • Begin met een van die drie gegewe sinne, byvoorbeeld: ‘Ek sien ‘n’.
  • Verduidelik nou aan hom/haar dat julle gaan lees.
  • Vertel jou kind wat daar staan.
  • Gebruik elke keer dieselfde sin, maar sit elke keer ‘n ander woord aan die einde.

Jou kind sal voel asof hy/sy lees aangesien die laaste woord se prentjie gegee word. Wanneer hy/sy baie vertroud is met die sin wat julle gekies het, kan julle een van die ander sinne soos byvoorbeeld ‘Waar is die’ gebruik.

Daar is ook ‘n punt-kaartjie en ‘n vraagteken-kaartjie. Dit is jou keuse of jy dit nou al aan jou kind wil bekendstel, maar dit is nie werklik nou al nodig nie. Jy kan jou kind wel daarvan bewus maak, deur telkens die regte kaartjie aan die einde van die sin, waarmee julle besig is, te plaas.

Let ook op dat al die los woorde, wat gegee word, drie-letter woorde is, en dieselfde woorde is, as dié wat jou kind reeds met die leeskaarte teëgekom het. As jou kind reeds goed vertroud is met die leeskaarte, behoort hy/sy ook dié drie-letter woordjies self te kan lees. Jy kan dit toets deur die prentjies toe te plak.