Afrikaans! Opvoedkundig! Uniek!


Hoekom is hierdie speletjies belangrik?

Dié speletjies bevorder visuele geheue. Visuele geheue is die vermoë om te kan onthou wat die oë sien. ‘n Kind moet kan onthou wat hy gelees het. Hy moet ook onthou hoe ‘n woord lyk, wanneer hy spelling doen, of ‘n sin skryf.

Dis jou kind se werk om te speel. Hy leer deur te speel!

Geheuespel

Ons Geheuespel belowe om pret vir die hele gesin te wees. Jy kan dit gratis aflaai deur op die volgende skakels te kliek:

Geheuespel

Instruksies vir Geheuespel

Prettige prentspeletjies

Laai die prentjies vir die Prettige Prentspeletjies af

Onthou: Jy moet telkens twee kaartjies van elke prentjie hê!

Ouderdom 2 jaar en op

Skommel al die kaartjies met gesigkant na bo. Laat jou kind elke prentjie se pasmaatjie soek.

Variasie: Jy kan jou kind een stel gee en die ander stel skommel dat hy so die pasmaatjies soek.

Ouderdom 3 jaar en op

Sit 3 verskillende prentekaartjies in ‘n ry. Gee jou kind ‘n paar sekondes om daarna te kyk. Draai hulle dan gesig na onder, en vat een weg. Draai hulle weer gesigkant na bo. Jou kind moet nou raai watter prentjie weg is. (As hy sukkel kan jy dalk eers met twee kaartjies begin.)

  • Tussen 4 tot 5 jaar, kan jy 4 verskillende kaartjies in ‘n ry sit (en een wegneem)
  • Tussen 5 en 6 jaar, kan jy 5 verskillende kaartjies in ‘n ry sit (en een wegneem)

Ouderdom 6 en op: Kreatiwiteitspel

Gee jou kind enige 2 kaartjies en jou kind moet ‘n ooreenkoms tussen die twee kaartjies uitdink. Dit kan enige iets onder die son wees, soos byvoorbeeld: beide prentjies het rooi in, of altwee is kledingstukke. As jou kind vashak, kyk of jy iets kan uitdink. Dit is ‘n baie goeie oefening om kreatiewe denke te stimuleer.

Ander speel-speel aktiwiteite

  • Bou hindernisbane in die huis of tuin. Laat jou kind onder deur die tafel kruip, bo-oor die kombers, en agter die stoel gaan sit. So leer jou kind om sy/haar liggaam in ruimte te posisioneer.
  • LEES LEES LEES! Lees van babatyd af vir jou kind boekies. Dit leer hom/haar om stil te sit en te konsentreer op dit wat julle besig is om te doen. Kinders onder 2 jaar stel gewoonlik nie vreeslik in die storie belang nie. Dit beteken egter nie dat jy nie vir hulle boekies moet lees nie. ‘n Lekker manier om hulle aandag te hou is om bloot die prentjies en handelinge, wat in die boek plaasvind, te bespreek.
  • Gesels gedurig met jou kind en wys dinge vir hom/haar uit. Byvoorbeeld as julle gaan stap, staan stil om die voëltjie se nessie te bestudeer, praat daaroor en probeer so lank as moontlik op die een onderwerp fokus.
  • Gee vir jou kind ouderdomsverwante speelgoed. Begin met aktiwiteite wat uitdagend, maar tog doenbaar is.
  • Laat jou kind gereeld legkaarte bou

Nog baie belangrike konsepte en begrippe wat speel-speel ingeoefen kan word is die volgende:

  • Kleure
  • Vorms
  • Begrippe soos klein en groot, kort en lank
  • Jou kind moet bewus wees van begrippe soos voor, agter, onder en op.

Die maklikste manier om jou kind aan bogenoemde konsepte voor te stel, is deur dit in julle alledaagse aktiwiteite in te bring, byvoorbeeld:

  • Vertel watter kleur hempie jy vir jou kind aantrek.
  • Verduidelik aan haar/hom dat dat die koekie sirkelvormig is.
  • Wys vir haar/hom julle bure se groot hond en vergelyk dit met julle klein hondjie.