Afrikaans! Opvoedkundig! Uniek!


Die “oe” boekie

Hierdie boekie word gebruik om jou kleinding die ‘oe’ klankie te leer. Ons het die boekie vir jou begin, jy en jou kind kan dit nou saam voltooi.

(Hierdie boekie sal die beste werk as jou kind klaar die alfabet magtig is en basiese drie letter woorde kan lees. Sien ons alfabetkaarte en leeskaarte om hierdie belangrike vaardighede vir jou kind te leer.)

Hoe om die boekie te maak

Laai die 'oe' boekie gratis af

  • Druk bladsy 1 en 2 van die boekie op jou drukker uit.
  • Plak hulle rug aan rug vas aan mekaar, dat dit een papier vorm.
  • Knip die buitelyn (die rooi lyn) van die groot reghoek op die bladsy uit.
  • Knip elke strokie uit op die blou lyne.
  • Sit die strokies soos volg op mekaar:
    • nr.1: die strokie met die prentjie van die boek heelonder (die prent moet links wees)
    • nr.2: plaas daarna die strokie met die prentjie van die hoed bo-op nr. 1 (die prent moet links wees)
    • nr.3: plaas daarna die strokie met die prentjie van die waatlemoen bo-op nr. 2 (die prent moet links wees)
    • nr.4: plaas die strokie met die woord ‘voet’ aan die regterkant bo-op nr.3
  • Kram die boekie in die middel. Dit behoort nou soos volg te lyk:
    • Voor-op staan daar ‘oe’.
    • As jy omblaai, is daar ‘n prentjie van ‘n boek op die linkerbladsy met die woord boek op die regterbladsy.
    • As jy omblaai, is daar ‘n prentjie van ‘n hoed op die linkerbladsy met die woord hoed op die regterbladsy.
    • As jy omblaai, is daar ‘n prentjie van ‘n waatlemoen op die linkerbladsy met die woord soet op die regterbladsy.
    • As jy omblaai, is daar geen prentjie op die linkerbladsy met die woord voet op die regterbladsy.
  • Indien jou boekie soos hierbo beskryf is, lyk, sal die res van die bladsy ook reg wees. Geniet!

Hoe om die boekie te gebruik

  • Verduidelik aan jou kind dat julle gaan leer van die ‘oe’ klank. Wys vir haar/hom die voorblad van die boekie en sê dat ‘n ‘o’ en ‘n ‘e’ saam ‘n oe klank vorm.
  • Blaai saam met hom/haar deur die boekie verduidelik haar wat elke prentjie simboliseer. Sy/hy moet byvoorbeeld weet dat die prentjie van die waatlemoen nie vir waatlemoen staan nie, maar vir ‘soet’. Verduidelik aan hom/haar hoekom ons sê ‘n waatlemoen is soet.
  • Wanneer sy/hy verstaan wat elke prentjie verteenwoordig, kan julle saam die boekie lees.
  • Verduidelik aan haar/hom dat die ‘oe’ klank elke keer in rooi geskryf is. Dus as sy/hy verstaan dat die twee letters saam ‘n ‘oe’ vorm, kan sy/hy enige vier letter woord met die klank ‘oe’ in lees.
  • Jy sal sien dat daar net drie prentjies gegee is. Die woorde voet en doek het nie prentjies by nie. Jy kan hierdie geleentheid gebruik om saam met haar/hom deur tydskrifte te blaai en kyk of julle prentjies vir hierdie woorde kan vind. Knip dit uit en plak dit op die gegewe leë spasie.
  • Indien julle sukkel om prentjies te kry, kan jou kind dit self inteken.
  • Julle kan sommer ook kyk of julle ander ‘oe’ klanke in tydskrifte of boeke vind. Julle sal sien dat daar oop bladsye is in die ‘oe’ boekie, sodat julle julle eie ‘oe’ klanke kan byvoeg.

Onthou om dit pret te maak. Julle kan ‘n ‘oe’ week hou. Wees gedurig op die uitkyk vir woorde of dinge met ‘oe’ in. Soos wat die week vorder kan julle nog prentjies in julle boekie byvoeg. Gesels gereeld daaroor en laat haar toe om met haar ‘oe’ boekie te spog. Onthou om jou kind geleentheid te gee om die klank neer te skryf!