Loebi die DraakLOEBI, DIE DRAAK, DIE ONTDEKKINGSREISIGER ...

Loebi is ‘n klein ontdekkingsreisiger, soos alle kinders.
Hy ontdek dag na dag meer en meer van sy drakewêreld, soos ‘n kind sy mense-wêreld ontdek.
Die drakewêreld is bietjie anders as die mensewêreld, maar nie so anders nie. Op slot van sake hou die drake die aarde dop.

Ons stories vertel van insidente in Loebi se lewe, toe hy klein was.

Enkele insidente waarvan vertel word in die 60 stories wat strek van die tyd toe Loebi gebore is tot hy 7 jaar oud is:
Die dag toe hy vir die eerste keer by oupa Loebibus en ouma Heidels gaan slaap het.

Die dag van die groot blare-geveg.

Die dag toe Loebi na sy speelgoed gesoek het. (Alles is altyd weg).

Loebi se eerste vakansie op sy oom se plaas. (Natuurlik word daar bangmaakstories om die vuur vertel wat noodwendig gevolge het ... )

Die dag toe die waterpyp gebars het ...

Die Betyds-bussie, wat die Draakgesin moet kom oplaai om hulle stasie toe te neem om die trein te haal, wil nie kom nie ...

‘n Vakansie in die berge in ‘n karavaan. Pappa het ‘n karavaan beskryf as ‘n huis op wiele. Vir Loebi lyk ‘n karavaan na ‘n kamer  op wiele ...

‘n Familie-byeenkoms en Loebi is voos gesoen en gegroet deur onbekende ooms en tantes en neefs en niggies. Hy is ook verveeld ...

Alle draak-eiers het twee drake in ... maar Loebi was alleen ...  Hy is  alleen.

Niemand  wil vir hom ‘n mooi serp koop nie ...

Hy wil so graag die blou skopfiets in tannie Vissie se winkel hê ...

Sussie-Ba en Sussie-La maak doef-doef-musiek op hulle tromme wat die huis laat tril ... en Loebi maak ‘n plan ...

Loebi se eerste uiteet-besoek aan ‘n restourant ... OEPS!

Oupa Loebibus wil ‘n lugskip bou. Weet hy wat hy doen ... ?

Loebi kyk vir die eerste keer deur die Loebibus-kyker ...

Loebi word elke jaar ouer en nog steeds kan hy nie vlieg, soos alle ander drake nie ...

Loebi kan nie slaap nie ...

Piti, die posdraak, vertel vir Loebi sy geheim ...

Breki sê Loebi teken lelik ...

Is daar iets in die rietbos in hulle tuin?

Sussie-Ba en Sussie-La verf hulle magies geel, en hulle dreig om Loebi se magie ook te verf, want geel is mooier as ...

Hoekom slaap die woefer altyd dwars in die deur?

Loebi blaas vir die eerste keer vuursade aan die brand.

Mamma het vergeet om die waterbottel in te pak. Almal is dors en die Drakensberge, waarheen hulle vir ‘n paar dae gaan, is nog ver ...

Loebi gaan speelskool toe ...

‘n Grootbek plattiepoot op oom Boepi se plaas, het baie te sê ...

Die kwetters gee aan Loebi raad hoe om te vlieg ...

Is daar regtig monsters in die Vieslike Vallei in die Blouberge?
Loebi ontwikkel dus in die verloop van ons stories van ‘n hulpelose draakbaba tot ‘n sesjaar-draak, vol selfvertroue. Hy ontdek homself ten opsigte van sy omgewing en ander drake. Hy kry sy plek in die drakewêreld.

Die stories van elke ouderdomsgroep se pakket vorm ‘n eenheid, maar is ook verweef met die ander pakkette se stories.


Om ‘n draakkind te wees, is nie maklik nie.
Om ‘n mensekind te wees, is nie maklik nie.
Om ‘n mense-ouer te wees, is nie maklik nie.
Om ‘n grootmens-mens te wees, is nie maklik nie.